Gids tot Reg op Verblyfsekerheid op Plase (Afrikaans)
Lawyers for Human Rights–Security of Farm Workers Project kom elke dag in aanraking met plaaswerkers. Op dié manier het ons agtergekom baie okkupeerders verkeer onder die wanindruk dat die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (ESTA) eiendomsreg op die persoon gee wat die huis op die plaas bewoon. ’n Plaaswerker ontvang nie eienaarskap van ’n huis wat aan hom op die plaas toegeken is nie. In die verlede, voor November 1997, was daar geen wetgewing wat plaaswerkers se regte op plase gereguleer het nie. Die gevolg hiervan was dat plaaswerkers onregverdig uitgesit is sonder dat daar enige hofproses gevolg is deur die grondeienaar. Derhalwe is ESTA in November 1997 gepromulgeer om die volgende te reguleer:
- Die voorwaardes vir verblyf op sekere grond soos plase
- Die voorwaardes vir en omstandighede waaronder mense se reg op verblyf op grond beëindig kan word
- Die regsproses wat deur die grondeienaar gevolg moet word voordat ’n plaaswerker uitgesit kan word.
